Chemiese wapen

'n Chemiese wapen (CW) is ammunisie wat chemies geformuleer is om dood en liggaamlike leed onder die vyand te saai. Die Organisasie vir die Verbod op Chemiese Wapens (OVCW) verklaar die volgende:

Die term chemiese wapen kan ook gebruik word in die verband van enige giftige (toksiese) chemikalieë of sy voorloper wat die dood, beserings, tydelike ongeskiktheid, of sensoriese irritasie deur chemiese reaksies veroorsaak. Ammunisie of ander afleweringsmeganismes wat ontwerp is om chemiese wapens te dra, gelaai of ongelaai, word ook as wapens op sigself beskou.[1]

Dit word geklassifiseer as wapens van massavernietiging (WMV's), hoewel dit onderskei word van kernwapens, biologiese wapens, en radiologiese wapens (wat radioaktiewe verval as elemente gebruik). Dit alles kan gebruik word vir oorlogvoering, wat in die wandel as KBC, (kern, biologies, en chemiese oorlogvoering), bekend staan. Wapens van massasvernietiging is duidelik anders as konvensionele wapens, wat primêr doeltreffend is weens die plofbare-, kinetiese energie-, of verbrandingsvermoëns daarvan. Chemiese wapens kan oor 'n wye spektrum in gas, vloeibare stof, en in soliede vorms versprei word, en kan onskuldige mense baie maklik ook saam met die teikens tref. Senuweegas, traangas en pepersproei is drie hedendaagse voorbeelde hiervan.

Dodelike, unitêre, chemiese middels is ontsettend vlugtig en bestaan uit 'n klas van gevaarlike chemiese wapens wat nou deur baie lande gestapel word. (Unitêre middels is op hul eie doeltreffend en is nie nodig om met enige ander middels te meng nie.) Die gevaarlikste hiervan is senuweegas GA (tabungas), GB (saringas), GD (somangas), VX, en blaastrekkende middels (soos in 'n mens se vel vol blase te brand), wat formules van swaelmosterd is. Dit is alles vloeistowwe teen normale kamertemperatuur, maar skakel om in gasse sodra dit vrygelaat word. Senuweegas, ook bekend as mosterdgas, was baie algemeen in die Eerste Wêreldoorlog gebruik. Die uitwerking van die fosgeengas was longverbranding, blindheid, verminking en die dood.

Pepersproei is deesdae in algemene gebruik vir selfverdediging, en is potensieel dodelik. Daar bestaan geen onlangse bewyse dat dit in oorlogtoestande gebruik is nie, hoewel dit minder beserings en newe-effekte het in vergelyking met impak- en plofbare wapens.

Ingevolge die Konvensie vir Chemiese Wapens van 1993, is daar 'n wêreldwye wetlik afdwingbare verbod op die vervaardiging, stapeling, en gebruik van chemiese wapens. Nieteenstaande die internasionale verbod, is daar tog lande wat dit stapel, met die verskoning van 'n afskrikmiddel teen 'n potensiële aggressor.

  1. "Brief Description of Chemical Weapons". Organisation for the Prohibition of Chemical Weapons (in Japannees). Organisation for the Prohibition of Chemical Weapons. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 September 2018. Besoek op 21 Oktober 2014.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search